Sekuriteits tegnologie


Low-cost security system wins Santam’s R150,000 startup prize - BusinessTech.

Top security tips for new home owners - BusinessTech.

Die doel van die artikel is om lesers bewus te maak van die beskikbare sekuriteits tegnologie. 'n Oorsig van sekuriteits maatreëls word gegee onder die volgende hoofde:

1. Bewustheid
2. Fisiese versperring
3. Alarm stelsels
4. Kameras
5. Sekuriteitswagte
6. Liggaamlike beskerming
7. Politieke oplossings

Gemeenskaplik aan meer as een afdeling is die aspekte van vroeë waarskuwing aan inwoners, en afskrikmiddels. 'n Vorm van afskrikmiddel wat nie elders genoem word nie, is 'n waarskuwings bord aan oortreders. 'n Grafiese illustrasie kan help in gevalle waar die oortreders nie kan lees nie, of onder die invloed is. Kopjagters het die beginsel gebruik.

1. Bewustheid

Om misdaad te bekamp moet die publiek eerstens gemotiveerd wees om iets daaraan te doen. Party mense tref nie sekuriteits maatreels nie, omdat hulle òf nie bewus is van misdaad nie, òf nie glo dat hulle slagoffers sal wees nie. As die publiek 'n insig het in die grootte van die ekonomiese en politieke probleme wat tot misdaad lei, en die hoë vlak van misdaad binne arm gemeenskappe, sal hulle beter verstaan waarom sekuriteit nodig word.

Party mense wil nie geld op sekuriteit spandeer nie. Dit is baie beter om misdaad te verhoed as om die nagevolge van misdaad te hanteer.

Misdadigers word toegelaat om langer aan te hou met hulle bedrywighede as wat nodig is, omdat die publiek hulself maklike teikens maak, deur byvoorbeeld onvoorbereid te wees. As mense onbewus is van misdaad voorvalle in hulle omgewing, is dit makliker vir misdadigers om een slagoffer na die ander te verras.

Slagoffers dink nie altyd daaraan om ander mense te waarsku nie. In stede gebeur dit dikwels dat dieselfde misdadigers na dieselfde woonbuurt terugkeer. Deur dus ander inwoners in te lig, insluitende oor mislukte inbraak pogings, help dit ander mense om voorbereid te wees.

Die polisie kan patrone optel soos wat voorvalle aan hulle gerapporteer word, en is partykeer bekend met misdadigers wat dieselfde area teiken. Waar die polisie te onbekwaam is om te reageer op die inligting, moet die publiek hulle eie inligting versamel en versprei. Dit word gou duidelik wanneer misdadigers 'n bepaalde area teiken.

Wanneer 'n alarm sirene die hele dag looi, kan dit wees dat misdadigers die alarm battery probeer pap kry, voor hulle inbreek, en om te sien of iemand gaan reageer op die alarm. 'n Alarm moet of telefonies uitskakel na 'n sekuriteits firma, of die inwoner, of inwoners moet hulle bure verwittig wanneer hulle weggaan met vakansie.

2. Fisiese versperring

Dit is baie beter om te verhoed dat misdadigers 'n eiendom betree, as om die situasie te probeer hanteer wanneer hulle binne die eiendom is. Daarom is 'n fisiese versperring, soos 'n elektriese heining, beter as 'n alarm stelsel, maar 'n alarm stelsel behoort ook gebruik te word sou die versperring faal.

Die versperring moet verkieslik so ver moontlik teruggeskuif word van die huis af, na die grense van die erf. Vir plase is die beperking natuurlik die hoë koste verbonde aan die beveiliging van lang grense. Daarom dat party boere net 'n hoe spanning elektriese heining om die plaashuis span.

Ander fisiese versperrings is byvoorbeeld plant heinings (shrub hedges), veral plante wat dorings het, en water gragte (moats) wat in die ou dae kastele omring het. Water kan deel vorm van 'n landskap ontwerp, maar onaantreklik lyk om deur te swem nie.

Figuur 1: Sekuriteits hek.
Sekuriteits hekke word met mag oopgebreek as daar 'n gaping tussen die hek en die kosyn is, soos in figuur 1 aangedui. Die alternatief tot die raam hek is opvoubare hekke wat gleuwe het bo en onder, byvoorbeeld Magnador. Die opvoubare hekke wat nie in gleuwe loop nie word maklik opgebreek. 'n Houtdeur word ook oopgebreek, as daar plek is om 'n skroewedraaier in te druk, en die hout weggebreek kan word.

Vensters wat kan opmaak behoort dik diefwering hê wat vasgebout is, en nie net in hout geskroef is nie. Vensters wat nie oopmaak nie behoort gelamineerde (shatterproof) glas te hê, wat 'n plastiek laag in die middel het. Dit is moeilik om deur te breek. Daar is plastiek film beskikbaar wat op bestaande glas geplak kan word, maar is waarskynlik minder doeltreffend nie.

As 'n afgeleë plaashuis nie genoeg beveilig kan word nie, kan 'n versterkte veiligheids kamer meer tyd toe laat vir hulp om op te daag.

3. Alarm stelsels

Daar is 'n groot verskeindenheid van produkte om van te kies, maar werk meestal oor 'n klein area omdat dit vir stads erwe bedoel is, en is moeilik toepasbaar oor 'n hele plaas. Dit maak dus sin om 'n sone om 'n plaashuis te skep waar al die produkte aangewend kan word.

Op die res van 'n plaas is meer unieke oplossings nodig, met groter aandag aan die kritiese sones soos rondom die plaashek en paaie. Baie produkte kan ontwikkel word met moderne tegnologie, as daar genoeg aanvraag is.

Heinings

As die pale van 'n gewone draad heining van 'n nie-geleiende materiaal (nie metaal, of hout wat nat word nie) gemaak is, of elektries ge-isoleer word (insulators) kan die drade as 'n sensor gebruik om bewoners te waarsku as iemand aan die draad raak, of die draad knip. 'n Persoon wat aan die draad raak skep 'n meetbare weerstand en kapasitansie na grond. Dit selfs moontlik om die afstand na so 'n versteuring elektronies te meet. Omdat die drade bloot as sensor gebruik word, is die spanning baie laag, in teenstelling met 'n hoë spanning heining.

Infrarooi ligstrale (IR beams) kan gebruik word as onsigbare heining. Die gewone gebruikers produkte werk net tot 200m, en is dus nie prakties vir plaas grense nie. Daar is laser strale wat tot 5km werk, maar is nie algemeen beskikbaar nie.

Huis alarm

Figuur 2: Buitenshuise bewegings sensor wat troeteldier bestand is.
Die gewone huis alarm wat slegs afgaan nadat 'n inbreker toegang gekry tot die huis is nuttig vir vakansie, maar van min waarde as mense by die huis is. Bewoners moet gewaarsku word voor inbrekers die huis kan betree, deur middel van (a) passiewe infrarooi bewegings sensors (PIRs), (b) infrarooi strale (IR beams), en/of (c) vibrasie sensors op vensters. PIRs wat bestand is teen vals alarms deur troeteldiere (pet immune) tot 40kg is beskikbaar. PIRs behoort dus die buitenshuise (outdoor) tipe wees wat water, son en troeteldier bestand is, sien Figuur 2.

Die getoonde PIR het twee sensors wat dit dier bestand maak. Dit kan gedurende die dag deur bewegende blare op 'n boom, en wasgoed wat op 'n wasgoedlyn rondgewaai word, gesneller word as die son skadus gooi. Buitenhuise PIR met 'n mikrogolf sensor hê is ook beskikbaar om vals alarms te verminder.

Draadlose weergawes van die PIRs is beskikbaar wat ooral op 'n erf geplaas kan word. Die batterye moet elke paar jaar vervang word. Die aantal PIRs wat, met of sonder draad, aan 'n alarm stelsel gekoppel kan word, is een van die faktore wat oorweeg moet word met die koop van 'n alarm stelsel.

Wanneer 'n bewoner sy eiendom verlaat, of na die eiendom terugkeer is hy 'n makliker teiken. Kameras by die ingangs hek, en op die pad van die motorhuis na die hek kan wys of daar vreemdelinge skuil. Wanneer 'n bewoner tuiskom, moet die alarm stelsel van ver af aandui of daar inbrekers was of is. Die waarskuwing kan byvoorbeeld 'n lig wees wat aanbly as die alarm geaktiveer was. Alarm stelsels het voorsiening vir allerhande uitsette, en een kan vir die doel geprogrammeer kan word.

Die luide sirene van 'n alarm stelsel is gewoonlik 'n goeie afskrikmiddel. Hoe verder die bure is, hoe harder moet die klank wees. Luidheid word gemeet as die SPL vlak (Sound Pressure Level) in decibel (dB).

Vloed ligte wat 'n ingeboude beweging sensor (PIR) het spaar krag, want die lig gaan slegs aan as daar beweging is, en kan oortreders afskrik wanneer die lig aangaan. Party modelle stuur ook 'n waarskuwing na 'n ontvanger binne die huis, sien figuur 3. Hierdie spesifieke model roteer die lig na waar die beweging is. As die vervaardiger nie sê dit is dier bestand nie, kan diere vals alarms veroorsaak.

Figuur 3: Vloed lig met ingeboude bewegings sensor en draadlose waarsku ontvanger (Model getoon: Nightwatcher NW30).
'n Alarm stelsel kan 'n aantal persone skakel in geval van 'n inbraak, of enige ander aktiwiteit wat met 'n sensor opgetel word. Dit skakel gewoonlik op 'n landlyn, maar 'n selfoon skakel (GSM dialer) kan bygevoeg word. As 'n alarm stelsel deur 'n sekuriteits maatskappy verskaf word, het hulle dikwels 'n radio skakel ook. Waar 'n sekuriteits firma nie beskikbaar is nie, of mense nie die maandelikse fooi wil betaal nie, kan hulle hul eie alarm stelsel laat installeer wat persone sal skakel wat hulle kies.

'n Selfoon module (met 'n SIM kaart) word deesdae in verskeie tipes sekuriteit apparaat ingebou, wat die eienaar automaties kontak. Die ideaal is dat 'n boer 'n vroeë waarskuwing op 'n selfoon of radio ontvang, enige plek op die plaas, of weg van die plaas af. 'n Minder tegniese oplossing is 'n sirene wat loei uit die rigting van 'n oortreding.

Radio

Vir plaas bewoners is alternatiewe kommunikasie soos 'n radio verbinding noodsaaklik. Die ou burgerband (CB) radios se frekwensie van 27MHz laat dit oor lang afstande werk. Die gewone draagbare twee-rigting radios werk rondom 450MHz wat die reik afstand beperk. Midland het 'n plaasveiligheids stelsel wat by 67MHz werk. Vir mense wat belangstel in amateur radio, is daar kragtige senders beskikbaar. In gevalle waar afstande te groot is om bure te bereik, kan heruitsenders (repeaters) gebruik word.

In die Noord-Kaap waar radio stilte 'n vereiste word weens die SKA radio teleskoop projek, kan duur satelliet skottel kommunikasie gebruik word, of optiese (lig) skakels as buurhuise gesien kan word (line of sight). Burgerband radio val buite die radio spektrum van SKA (70MHz na 10GHz).

4. Kameras

Kameras is uiters nuttig omdat bewoners kan sien wat buite aangaan sonder om hulle lewe in gevaar te stel, en kan na 'n voorval gebruik word om misdadigers te identifiseer. Daarom dien dit ook as afskrikmiddel. As misdagers sien daar is oral kameras, sal hulle minder bereid wees om 'n eiendom te betree. Kameras bied die groot voordeel bo bewegings sensors alleenlik, dat 'n mens kan sien wat die sensor geaktiveer het.

Daar is twee tipe gewone sekuriteits kameras: analoog (CCTV - Closed Circuit TeleVision), en digitaal. Die terme analoog en digitaal verwys na die uitset formaat. Die analoog formaat plaas 'n basiese beperking op beeld skerpheid (resolusie). Digitale kameras kan 'n heelwat hoër resolusie gee, maar kos meer. Digitale kameras vereis meer tegniese kennis om te installeer.

Figuur 4: Sekuriteits kamera (CCTV).
Analoë kameras het 'n video uitset wat aan 'n TV gekoppel kan word. Figuur 4 wys 'n goedkoop kamera wat reeds in 'n waterdigte houer ingebou is, met 'n infrarooi lig vir nag gebruik. Hoër gehalte kameras word gewoonlik as aparte komponente gekoop: kamera liggaam, lens, behuising, en infrarooi lig. Hoe goedkoper die kamera, hoe swakker is die beeld gehalte gewoonlik.

Digitale kameras word algemeen IP (Internet Protocol) kameras genoem, en word aan 'n plaaslike area netwerk (LAN, ethernet) gekoppel om die beeld te kan sien. Alle persoonlike rekenaars het so 'n LAN konnektor, en die beeld kan op 'n rekenaar skerm gesien word. Dit kan ook aan 'n roeteerder (router) gekoppel word om die beeld deur die internet na enige plek op aarde te stuur - die beperking is die koste van die internet toegang.

DVR

Die video van analoë kameras kan opgeneem word met 'n DVR (Digital Video Recorder) wat spesiaal vir die doel gemaak is. Digitale (IP) kamera video kan met 'n NVR (Network Video Recorder) of met 'n rekenaar opgeneem word. Daar is nou vyf tipe opnemers:

(1) Ouer analoog DVRs wat 'n lae resolusie van 352 x 288 piksels opneem (CIF = Common Interface Format, of HD1). QCIF is 'n kwart van die resolusie van CIF, naamlik 176x144.

(2) Nuwer analoog DVRs wat vier keer die resolusie stoor van 704 x 576 piksels, genaamd 4CIF of D1.

(3) Wyer resolusie analoog DVR wat 960 x 576 piksels stoor, genaamd WD1 of H960, vir kameras wat 700 tot 1000 piksels horisontaal het.

(4) Digitale HD-SDI (Serie Data) DVRs wat 1920 x 1080 piksels stoor, vir Hoë Definisie (HD) kameras.

(5) Digitale NVR (Network Video Recorder) vir IP (internet Protokol) kameras wat met 'n ethernet kabel verbind word. Dit kan ook met 'n rekenaar opgeneem word.

'n DVR kan geprogrammeer word om vaste tye op te neem (ook 24 uur per dag), of om net op te neem as daar beweging in die beeld is. Laasgenoemde funksie werk nie altyd so goed nie, want motte wat aangetrek word na die infrarooi lig van die kamera sneller 'n opname.

Om 'n groot area met een kamera te dek benodig een of meer van die volgende:

(a) 'n Bykomstige sterk infrarooi lig vir die nag. Losstaande IR lampe kan tot 100m haal, maar is duur. 'n Aantal goedkoper IR ligte kan uitgesprei word langs 'n grens.

(b) 'n Nagsig (night vision) kamera werk op dieselfde lig spektrum as infrarooi kameras, maar is meer sensitief. Dit gee 'n herkenbare beeld onder maanlig. Party kan nie sterk lig of daglig hanteer nie. Handelaars noem partykeer gewone infrarooi kameras nagsig kameras – as dit 'n infrarooi lamp nodig het, is dit nie werklik nagsig nie. Nagsig verkykers (night vision monoculars/binoculars) is redelik geprys. Party het 'n video uitset wat waarneming op 'n TV moontlik maak. Die resolusie is laag, rondom 600 x 600 piksels.

(c) Hitte (thermal imaging) kameras werk in stik donker, want dit tel liggaamshitte op. Dit is baie duur, en die resolusie is laag (tipies 320 x 240 piksels).

(d) 'n Lens met 'n zoom funksie, en meganiese beheer oor die rigting waarin die kamera kyk (PTZ = Pan Tilt Zoom). Die funksies is afstand beheerd, sodat die kamera sig verander kan word terwyl die beeld gemonitor word.

Gewone gebruiker kameras (stil kameras en camcorders) het partykeer 'n video uitset, maar gee 'n swak beeld in die aand. Dit is omdat hulle 'n filter in het om infrarooi lig weg te hou van die beeld sensor, wat sensitief is vir IR lig, omdat die publiek net sigbare lig wil hê vir alledaagse fotos. 'n Sekuriteits kamera skakel oor van 'n kleur beeld in die dag, na 'n swart-en-wit infrarooi beeld in die nag.

Afgeleë waarneming (Remote surveillance)

Om 'n foto van 'n moontlike sekuriteits bedreiging op 'n selfoon te ontvang sou beter wees as net 'n waarskuwings boodskap, maar om geskikte toerusting te vind is moeilik. 'n Gewone alarm stelsel maak nie voorsiening vir prente/video nie, maar daar is ander afgeleë waarnemings (remote surveillance) toerusting wat dit kan doen.

Kamera fotos kan óf direk aan 'n selfoon gestuur word as MMS (Multimedia Messaging Service), óf die selfoon kan gebruik word om die fotos op die internet te gaan kyk. In laasgenoemde geval word die (IP) kamera aan die internet verbind. Dit sal moontlik te lank neem, want die gebruiker moet gewoonlik eers aanmeld met 'n gebruikersnaam en wagwoord.

Om fotos direk van 'n kamera deur 'n selfoon netwerk na 'n selfoon te stuur gee partykeer ook tegniese probleme. Van die produkte het gekom en gegaan. Een van die probleme is die vertraging by selfoon netwerke met die deurstuur van fotos as MMS. Na die lang vertraging, word die prent dikwels ook stadig geteken, afhangende van die spoed van die selfoon diens (GPRS of 3G), en die prent grootte.

Draagbare monitors is beskikbaar waarmee die beeld van draadlose kameras direk besigtig kan word, maar werk meestal net oor 'n honderd meter omdat dit vir gebruik in en om 'n huis bedoel is.

Jag kameras

Figuur 5. Jag kamera (model getoon: Shenzhen MHC Technology LTL5210A).
Die jag kameras wat normaalweg gebruik word om wilde diere af te neem (sien figuur 5), bied nuttige funksies vir versameling van bewyse: (a) selfstandige werking sonder enige drade, (b) duideliker fotos (hoër resolusie) as gewone sekuriteits kameras, (c) neem automaties fotos as daar beweging is, (d) party kameras kan fotos na 'n selfoon (MMS) of epos adres stuur, en (e) is relatief goedkoop vir die beeld gehalte. Soek 'n model met lae kraggebruik sodat die battery lank hou, en wat fotos elke sekonde kan neem. Metaal kaste is geskikbaar vir beskerming.

Nadele verbonde aan die jag kameras is dat (a) dit nie 'n lewendige beeld gee wat op 'n TV/skerm gemonitor kan word nie, (b) die sensor is nie dier bestand is nie, want dit word juis gemaak om diere af te neem, en moet dus geplaas word waar diere nie onnodige fotos sal veroorsaak nie, en (c) die selfoon netwerke kan so lank neem om fotos as MMS deur te stuur, dat die funksie nutteloos is. Die prente word ook intern in geheue (SD kaart) gestoor soos enige ander elektroniese kamera, en die kamera, of die geheue kaart, moet aan 'n rekenaar gekoppel om die fotos te sien.

5. Sekuriteits wagte

Plaasboere in Zimbabwe, en huiseienaars in Mosambiek het in 'n stadium hulle eie sekuriteits wagte in diens geneem, want hulle het soortgelyke probleme ondervind. Gegewe die baie werkloses in SA, en die besoldigingsvlak van sekuriteitswagte, kan gemeenskappe hulle eie sekuriteits diens skep. As 100 inwoners 'n tweehandse motor aanskaf as sekuriteits voertuig, en drie sekuriteitswagte in diens neem wat elk agt uur skofte werk, beloop dit R100-200 per maand per inwoner. Die probleem is gewoonlik om inwoners se samewerking te kry. Om 'n sekuriteits voertuig aaneen te ry kos baie petrol, en doeltreffende brandstof gebruik is nodig.

6. Persoonlike beskerming

Dit is van uiterste belang dat soveel as moontlik van die ander sekuriteits maatreëls wat elders genoem word, gebruik word om te verhoed 'n inbraak vorder tot 'n persoonlike aanval. Dit wil sê die fisiese versperrings, afskrikmiddels, en vroeë waarskuwing deur alarms en kameras.

Persoonlike beskerming kan bestaan uit: (a) wapen, (b) skok apparaat (Tasers), (c) peper sprei en peper pistool, (d) persoonlike alarm, en (e) 'n noodknop op 'n afstand beheer, en noodknoppe binne die huis wat deel vorm deel van 'n gewone alarm stelsel.

7. Politieke oplossings

Misdaad is die simptome van 'n siek gemeenskap. Die ideaal sou wees om eerder die sieke te behandel. Die mens, soos enige ander dier, vermeerder totdat bronne opraak, soos voedsel en grond. Dit is baie beter om bevolkings groei te beperk as om die gevolge van oorbevolking te hanteer, soos hongersnood en geweld.

Wanneer 'n mens inmeng met die natuur, probeer die natuur gewoonlik om die wanbalans te neutraliseer. In hierdie geval het massa voedsel produksie deur masjinerie bygedrae tot 'n bevolkings ontploffing, wat tot miljoene werkloses en misdaad gelei het, wat negatiewe teruggevoering vir voedsel produsente veroorsaak.

Vir 'n stabiele gemeenskap behoort alle sektore ontwikkel te word in plaas van net in party basiese behoeftes te voorsien soos voedsel.

Die grootte van die probleem kan beter begryp word as mense besef hoe groot die bevolking is: As die bevolking sou uitsprei langs die pad van Kaapstad na Johannesburg, sal dit 'n skare wees wat agt rye diep staan aan weerskante van die pad, aaneen vir 1500km. Dit is 'n massiewe bevolking, waarvan die meeste in die toekoms gaan sukkel om 'n bestaan te maak.